Pages

Search "Moose Chronicles".....for :

Friday, April 28, 2017

Dinge om te bewaar na die "It's Time" Biddag......

Survivors create themselves through trial & error, pain & suffering & their ability to conquer themselves...

Ná al die gebed, voorbidding, en bediening wat uitgeloop het op die ongelooflike tyd in Bloemfontein, sal die duiwel alles binne sy vermoë doen om jou gemoedstoestand en gedagtes negatief te beïnvloed. 

Dit het Elia oorgekom in 1 Konings 18 en 19. 
Uit sy ervaring leer ons dat elkeen van ons vyf dinge moet beskerm om te voorkom dat ons verwar en ontmoedig word.

1. Beskerm jou ore teen leuens. 
Beskerm hulle teen gerugte, leuens en negatiewe gesprekke. 
Doen alles in jou vermoë om ingestel te bly op God se Woord. 
Fokus op die waarheid!

2. Beskerm jou hart teen ontmoediging
Herinner jouself aan al die wonderlike dinge wat God gedoen het. 
Hou aan om Hom te dank en Hom te prys. 
Speel aanbiddingsmusiek so gereeld as wat jy kan. 
Hou jou hart vol en jou fokus op Jesus.

3. Beskerm jou verhoudings
As die duiwel nie by jou verhoudings met God kan inmeng nie, sal hy dit probeer met diegene wat die naaste aan jou is. 
Doen alles binne jou vermoë om jou verhouding met jou geliefdes, kinders, kollegas en kerkmense doelbewus te beskerm en te versterk. 
Wees bereid om eerste jammer te sê, fokus op nederigheid, en bewys jou liefde mildelik.

4. Beskerm jou visie. Sonder ‘n visie vergaan ʼn volk. Vra God hoe om visie te bou en te versterk na aanleiding van wat Hy in Bloemfontein gedoen het. Vra Hom hoe om Sy gawes en vermoëns in jou te laat toeneem en hoe om ander positief te beïnvloed.

5. Ten slotte, beskerm jou dors vir Sy teenwoordigheid. 
Tamheid is een van die maniere waarop Satan ons dors vir die teenwoordigheid van God laat afneem. 
Oorkom tamheid deur tyd in te ruim vir jou stiltetyd, herleef die getuienisse wat jy ervaar en gehoor het, herinner jouself waaroor It’s Time gaan en beplan doelbewus gereelde oefening en genoeg slaap vir jouself!

Hierdie vyf dinge sal jou positief, in afwagting en in pas te hou met wat God besig is om te doen.

Shalom & Maranatha...!

No comments: