Pages

Search "Moose Chronicles".....for :

Tuesday, July 03, 2012

Sonder Liefde ...?


As jy in een woord die Evangelie moet opsom, wat sal dit wees? 
Wat dink jy is die 'absolute' middelpunt? 

Liefde...... 

Selfs as Jesus die 10 gebooie opsom, gebruik Hy die een aksie, Liefde. 
Liefde is so allesomvattend dat die hele wet van God daarin pas. 
Daarom hoef ons nie al die wette een vir een uit ons kop te gaan leer nie.
 Nee, vra net die een vraag: Loop daar ’n straaltjie liefde uit dit wat ek nou gaan doen of is dit so weg soos gister se gespandeerde pay...........?

Op ’n manier dink ek dat liefde die goue stokkie ('panacea' ) is wat alle probleme in ons huisgesinne, werk, vriendekring, samelewing, regering en wêreld met eensklaps sal reg toor...!
Want waar liefde is, is daar nie haat nie en hoe moet jy nou lekker oorlog maak as die haat wegkruip? 
Hoe kan jy jou verskaffer ’n rat voor die oë draai as daar liefde uit jou dade vloei – jy kan en wil en sal eenvoudig dit net nie wil en kan doen nie. 
Wanneer pure liefde vloei, is dit onmoontlik vir haat en seermaak en alleen los en verneuk om in jou verhoudings te kom tent opslaan.

Dit gaan baie swaar in die wêreld daar buite met al die verhoudings. 
Al werk ons ons 'stert af' aan ons verhouding, wil dit om een of ander rede net nie vlot nie. Kort, kort is ons in mekaar se hare.
Ons verstaan mekaar mis en voor ons ons oë uitvee is daar ’n jong oorloggie aan die gang en lê daar gou ’n klomp lyke. 
Die rede.......? 
Min of geen liefde nie. 
Dit is eintlik so eenvoudig, tog so uiters kompleks om dit wel reg te kry.

Hoeveel huwelike le op die rotse stukkend, -net omdat hierdie hoofbestanddeel een of ander tyd langs die pad uitgeklim het. 
En die grootste probleem is derde partye. 
Eggenotes wat stukkend en alleen agterbly omdat die ander ene besluit het om die hoofbestanddeel uit die gebak te haal: “My ma en pa is onlangs geskei a.g.v. buite-egtelike verhoudings ..... 
Sy het ons hele gesin so seer gemaak en besef dit nie!” 
Waar is die liefde in die paragraaf? 
Nee, daar is nie ’n stukkie sigbaar nie. 
En wat vir my so skokkend is, is dat diesulkes dit nie kan insien dat hulle verwoesting saai nie. 
Het die samelewing so siek geword dat mense nie meer besef as hulle ander se lewens aan die verwoes is nie? 
Het dit so siek geword dat ons die verkeerde liefdelose dade kan regverdig met skewe reëls en dan op die ou end glo ons is reg en die res verkeerd? 
Met mooi gimnastieke toertjies in ons breins verdraai ons die liefdelose dade en glo ons dit is reg.

God werk nie lekker op ’n terrein waar daar nie liefde is nie. 
Inteendeel, God is nie op dié Godverlate vlakte nie.

7My liewe vriende, laat ons aanhou om mekaar lief te hê, want liefde kom van God af. Aan liefde ken ’n mens die kinders van God uit, want hulle ken Hom goed. 8God is liefde! Iemand wat nie liefhet nie, weet niks van God nie. 1Joh 4

Dalk is hierdie ’n stopstraat waar ons eers ’n "time out" moet vra om te kyk of ons elkeen op die regte pad is. 
Kyk na die sukkel-areas in jou lewe. 
Is God daar? 
Is God se liefde daar? 
Heel waarskynlik nie......... 
Kyk mooi en neem ’n besluit. 
Vandag wil God weer vir jou kom sê om die liefde op te tel en dit deel te maak van jou elke treetjie se stap in jou verhoudings. 
Ja, dit is ’n opdrag. 
Ja, dit is ’n wilsbesluit en ja, dit is ’n aktiewe aksie. 
Ongelukkig kom dit nie altyd vanself nie en moet ons hard werk om dit in ons verhoudings te laat grondvat.

Begin weer voor en laai jou sakke vol liefdes saadjies en saai dit orals waar jy kom. 
Gaan na daardie verhoudings wat in sak en as op God se verlate vlaktes lê en doodbloei en saai weer die liefde. 
Wonderwerke sal gebeur en op daardie dorre stuk aarde kan daar weer lewe kom, want onthou, God is mos liefde..........!

Glo jy in die wonderwerkende krag van God se liefde?


Shalom .....Maranatha

No comments: