Pages

Search "Moose Chronicles".....for :

Monday, June 11, 2012

Jy's SPECIAL ..........!


Om vir jou skool se eerste span te speel of vir die Springbokke in enige sport uit te draf, moet jy nogal redelik besaai wees met talente....! 
Jy moet sekerlik goed en eintlik 'spesiaal' wees om gekies te word vir so ’n span. 

Wanneer dit egter by Christenskap kom, is almal deel van die spesiale span. 
Hier is dit nie nodig dat jy beslaan is met ’n hoop spesiale gawes en talente nie.
 Nee, dit is eintlik nie op grond van jou en my talente nie, maar op grond van Iemand anders wat ons deel maak van die spesiale span: 

27Wat julle betref: julle het iets van Jesus gekry wat julle totaal verander: sy Gees het by julle kom bly. (1 Joh 2)
 So het Hy julle in sy spesiale span vir hierdie wêreld gesit.

Watter ongelooflike nuus is dit nie? 
Ons is reeds verkies vir die spesiale span van God! 
Ons het die "cut" gemaak! 
Daar is ’n plek vir ons in die span gemaak! 
Maar moenie te gou te veel van jouself dink nie, want dit is nie as gevolg van ons talente of omdat ons so goed is nie. 
Nee, dit is moontlik gemaak deur die Heilige Gees wat in ons woon. 
Ja, omdat ons die Heilige Gees ontvang het en omdat Hy in ons woon, kwalifiseer ons outomaties vir die spesiale span. 


Besef ons regtig watter perks ons as Christene ontvang?
Besef ons werklik met wie ons skouers druk? 


Die fliek "Out of his league" spring nou weer in my kop. 
Die fliek gaan oor ’n ou wat gedink het hy is ’n 6 uit 10 ou, maar toe ontmoet hy ’n 10 uit 10 meisie en besef dat hy eintlik ook 10 uit 10 is. 
Jy is ook 10 uit 10. 
Net omdat die Heilige Gees in jou woon! 
Hoekom gaan ons aan om ’n 6 uit 10 lewe te leef as ons eintlik reeds 10 uit 10 in God se oë is? 
Ons is maar partykeer lekker 'stupid', né!

Die vers sê egter dat ons totaal en al verander het, maar is dit so? 
As ek ’n prentjie van myself vergelyk met ’n prentjie van iemand van die wêreld, is daar groot verskille of lyk hulle maar baie na aan dieselfde? 
Onthou jy nog die prentjies wat op ’n haar na dieselfde gelyk het in die kinderboeke, maar as jy lank gesoek het, dan kry jy ’n klein verskilletjie waar hulle die een lyntjie ’n fraksie van ’n millimeter korter getrek het as die ander? 
Dan was jy so opgewonde omdat jy uiteindelik die verskil gekry het. 
Is ons lewens nie maar ook so naby aan die wêreld s'n nie? 
Dan is dit nie reg nie, want die Heilige Gees dop ’n mens heeltemal om. Hy verander ons totaal en al. Dit is ’n totale ommekeer.

Die meeste van ons duik hier in die hek, maar moenie bly lê nie. 
Kyk mooi na jou prentjie en begin ’n slag saam met die Heilige Gees woel. 
Laat toe dat Hy maar afkap wat nie reg is nie

Gaan lees God se Woord, sodat jy anders kan dink, anders kan droom en anders kan lewe, want dan sal die Heilige Gees jou totaal en al omdop en sal jy anders wees. 

Dan sal jy gereed wees, want sien, 27.... Hy wil hê dat julle spesiale dinge vir Hom moet doen. 
Jip, as jy in die spesiale span speel, dan kom daar ook ’n paar verantwoordelikhede saam. 
Jy moet spesiale dinge vir die Here doen............

God het sy spelers een vir een kom kies en vir hulle elkeen ’n stukkie van sy Gees gegee.
 Daarom is hulle deel van God se spesiale span. 
Maar God rus elke speler toe met die regte en beste toerusting om die wedstryd perfek te speel. 
Hy gee vir elkeen die gawes wat hulle nodig het om die wedstryd goed te speel. 
Waar die span gaan, gebeur daar iets..... 
- Mense word uit hulle nood gehelp. 
- Mense word uit die koue gered en ’n plek gegee waar hulle warm kry en waar hul mae weer vol kan word. 
- Mense wat doelloos rondswerf kry skielik ’n plekkie van hoop en speel ook nou in ’n spesiale span. 
- Hier word verloorders elke keer wenners en stap elkeen met die beker omhoog die wêreld in.

Sjoe, kan jy glo dat jy deel is van die spesiale span? 
Dalk het dit tyd geword dat ons die lewe moet betree met die wete dat ek spesiaal deur God verkies is, dat Hy my sy Gees gegee het en met ’n hand vol talente die wêreld instuur. 
Miskien moet ek erns maak met die span waarvan ek deel is se verwagtings en begin speel, sodat ander mense totaal anders kan wees, omdat hy of sy die spesiale span gesien speel het.

Shalom ........Maranatha !

No comments: