Pages

Search "Moose Chronicles".....for :

Wednesday, August 26, 2015

Futiliteit - Versonke in die Vergeteldheid van Vlietende Denke......


“Why do bad things happen to good people?” 


Vir baie van ons is dit ‘n oorbekende vraag.....
Mens kan selfs die vraag omdraai en vra: “Why do good things (always) happen to bad people?” 
Van watter kant af mens ookal die vraag vra, die implikasie daarvan is dat ons, wanneer dinge vir ons verkeerd loop, die lewe dikwels as onbillik en onregverdig ervaar.... 
'n Mens voel dan soms lus om te vra: “Waarom....? Waarom ek?” 

Dit is baie interessant om te sien dat van die 'Denkers' deur die eeue soms radikaal verskil het oor die antwoord op dié moeilike vraag......

So redeneer Gottfried Leibniz, ‘n Duitse filosoof uit die 18de eeu, wat allerweë beskou word as die Vader van die Optimisme, dat hierdie wêreld die beste denkbare moontlikheid is.
Omdat hierdie werklikheid deur ‘n goeie God geskep is, moet die lewe derhalwe in beginsel goed wees.......

Daarteenoor redeneer Arthur Schopenhauer weer, ‘n ander Duitse filosoof uit die 19de eeu, wat allerweë weer beskou word as die Vader van die Pessimisme, dat hierdie wêreld die slegste denkbare moontlikheid is – al wat mens derhalwe van hierdie wêreld kan verwag is pyn en ellende......

Ons ervaring met die werklikheid lê waarskynlik op ‘n lyn iewers tussen die twee teenoorgestelde lewensbeskouinge: die lewe is nou wel nie altyd maanskyn en rose nie, maar alles is darem ook nou weer nie altyd so sleg nie....! ?

Wanneer mens in die Bybel na ‘n antwoord op dié moeilike vraag gaan soek, kry mens weer, -‘n paradoksale prentjie.

Vat byvoorbeeld die verhaal van Job:
Met die knip van ‘n oog verloor hy alles wat hy besit het: sy boerdery, sy kinders, sy gesondheid en uiteindelik sy vrou. 
Oornag word Job se lewe tot benede bestaans-minimum gereduseer. 
Sy gevolgtrekking is verbasend: “.....die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die naam van die Here......”

Blaai mens egter net ‘n entjie veder na die verhaal van Prediker, hoor jy presies die teenoorgestelde ding: 
Prediker het alles gehad wat ‘n mens se hart kan begeer: geld en grond, vee en vrouens, vreugde en voorspoed. 
 Sy gevolgtrekking is ewe verrassend: “Alles kom tot niks – dis ‘n gejaag na wind!”

Die teenstelling tussen dié twee verhale is helder: 
Wanneer Job alles onder die son verloor, het hy bokant die son nog 'iets'; 
Prediker besit alles onder die son, maar bokant die son 'niks'. 
Vir Job het die lewe betekenis...... 
Vir Prediker is die lewe sinloos.....

Die bekende en suksesvolle (....& skatryk) tennisster, Novac Djokovic, het onlangs in ‘n dokumentêre program ‘n belangrike ding gesê wat ons dalk uit ‘n ander hoek in die rigting van ‘n antwoord op dié moeilike vraag help. 
Hy sê eendag gaan alles wat jy was, en wat jy besit het, en waarvoor jy bekendheid verwerf het, tot ‘n einde kom. 
So, waaraan kan die waarde van jou lewe derhalwe gemeet word? 
Daar is net een ding: 
Watter verskil het jou bestaan aan ander mense se lewens gemaak het....
Aan jou huweliksmaat se lewe, jou kinders se lewe, jou vriende se lewe, aan die samelewing. 

Djokovic sluit af deur te sê: 
“Life lived that matters, -is NOT out of circumstance, but out of choice.”

Moeder Theresa is waarskynlik 'n 'moderne' sprekende voorbeeld van hierdie 'suksesresep'..!

Die lewe is nie vanselfsprekend nie – leef dit bewustelik.
Leef dit met oorgawe.

Leef dit met deernis teenoor mens, dier & natuur. 

Dáárvoor, (vir jou 'rerig-menswees'), sal mense jou dalkies eendag onthou, indien enigsens, ooit...

Shalom & Maranatha .......    

1 comment:

Anonymous said...

Pragtige woorde, baie dankie.