Pages

Search "Moose Chronicles".....for :

Sunday, January 27, 2013

Peace ...? / Vrede... ?

Wanneer ons begin om in Hom te rus, sal ons veel minder stres in ons lewens beleef en meer geleenthede om ’n verskil te maak rondom ons raaksien.....

In een van die woonbuurte stap ’n man oor die straat om vrede te maak tussen skellende familie.... 

Die man is bekend; hy is stil en praat nooit te veel nie..... 
Hy is die wonderlikste oupa vir sy kleindogter. 
Maak haar soggens wakker met ontbyt in die bed, haar kosblikkie klaar gepak en haar waswater stomend voor haar bed. 
Hy, die vredemaker, stap tussen die rasende vrouens in. 
Die een trek ’n mes en steek na sy kant toe. 
Die mes glip en steek hom dwarsdeur die hart.... 
’n Ouer vrou tel ’n groot paal op en slaan hom grond toe. 
En daar het hy nie weer opgestaan nie. 
Hy is net daar dood.

Kan jy dit glo? 
Kry jy ook ’n hol-kol op jou maag?

Dit is die realiteit van ons wêreld, ja selfs vandag nog. 
Die vredemakers word deur die massas vermoor, uit die weg geruim en eers later wanneer almal klaar geskrik en uit die skok gekruip het, sien hulle die gebakte pere en ’n ma van ’n vier maande oue baba wat nou moet tronk toe.....

Niks nuut nie. 
Jesus waarsku al hieroor: ..... 
“Die ergste van alles het Ek julle nog nie vertel nie. Dit sal nie net vreemde mense wees wat julle ernstige moeilikheid gaan gee nie. 21Dit sal tot gebeur dat ’n broer teen sy eie broer draai, of ’n pa teen sy kind. Glo dit of nie, sulke mense sal teen hull eie bloedfamilie draai. Hulle sal selfs wil hê dat hulle doodgemaak moet word. Later sal die kinders selfs soos rebelle die mag in eie hande neem en sommer hulle eie pa en ma doodmaak.” 
Van die vroegste tye tot vandag toe loop die mens se pad maar so. 
Die mense wat die lewe en die Lewe bring, se lewe word ontneem
Agterbaksheid, Inhaligheid & Jaloesie vier hoogety (veral innie sg. Professionele Besigheidswereld..)? 
Die mense wat die vrede wil maak, word “ter wille” van vrede o.a. doodgesteek met ’n mes (baie keer met 'n mes in die rug van die mense wat hulle dit die minste van verwag? )
Ek is dan eerlik as ek sê die prys raak effe te hoog.... 
Ek weet nie lekker hoe om nou hier te dink nie, maar ek dink dit is NIE MEER die moeite werd om 'n lewe nou op te gee om vrede te gaan maak .... (veral nie tussen ’n klomp skreeuende vrouens nie. )
Nie meer in SA nie !

Sonder om te keer vra ek die vraag vir myself? 
Hoeveel erns maak ek in my lewe met God & Sy storie? 
Wil ek God dien in my maniere of op Sy manier? 
Ja, ek wil God dien, maar net as dit lekker is, as dit goed gaan, as dit nie te veel van my vra nie, as ek nie te veel moet opoffer nie. 
Toe ek op ’n stadium aan die worstel was & in die diepste valleie van my lewe & lus  om alles te los, was dit nie die tipe nuus wat ’n man wil kry nie. 
Ek, eintlik al ons mense, wil nie keuses maak waar swaar tye ons pad kan kruis nie. 
Dit klink net nie lekker nie.... 
Dit maak net nie lekker sin nie.....

Dan soek 'n mens 'troos'. 
Soek hard na ’n ligstraaltjie in dié donker vooruitsigte.........

Ek lees weer die gedeelte en vreemd genoeg, die troos lê net in die vorige twee verse! 
Hoe blind kan ’n mens dan nou wees? 
”Om twee redes hoef dit julle nie bang te maak nie. Wat hierdie mense nie weet nie, is dat hulle julle eintlik ’n guns bewys : hulle trek al die aandag na julle toe. Almal, selfs mense wat nie eens Jode is nie, sal nuuskierig wees om te hoor wat julle sê. 
So sal hulle die goeie nuus hoor, of hulle nou wil of nie! 
Hoor jy mooi wat hier staan? 
God werk met ’n lang plan. 
Die ou wat te nagekom word, omdat hy in die Koninkryk van God aan die werskaf is, sien net die swaar en kan nie verstaan nie, maar eintlik gebruik God hierdie omstandighede as gratis bemarking. 
Kyk, die ouens teen hom praat met almal, dit word in die koerante se hoofopskrifte uitbasuin. 
Nuuslesers en die se maters basuin dit op elke nuus bulletin uit. 
Sonder om iets te doen kom die ore wat die Evangelie so dringend moet hoor, verniet aangedra. 
God is STEEDS in beheer. 
God doen wonderlike goeters. 
God gebruik die swaar waardeur jy moet gaan ten goede en op die ou end is jy ’n uitmuntende werker in God se landerye. 
Ek weet dit maak dalk nie nou sin nie. 
Ek weet dit is nie wat jy wil hoor terwyl jy ly en swaarkry nie. 
Tog moet ons êrens gaan vasgryp aan ons Geloof en weet, alhoewel ons dit nie nou kan sien nie, alhoewel ons dit nie nou kan verstaan nie, is God besig om jou en jou omstandighede met ’n lang plan te gebruik. (2Kor5:7)

Dit maak ’n mens al effens rustiger, maar tog is daar maar nog baie wat pla. 
Sal ek dit maak? 

Op 'n Grafsteen staan die volgende.....:
Toe ek jonk en vry was en my verbeelding geen perke geken het nie, het ek gedroom hoe ek die wêreld wou verander. 

Soos ek ouer en wyser geword het, het ek agtergekom dat die wêreld nie sal verander nie. 
Ek het my droom effens ingekort en besluit om net my land te verander. 
Hiermee het ek geen sukses gehad nie. 
In my herfsjare het ek nog een laaste poging aangewend om dinge te verander. 
Ek het min illusies oorgehad en besef dat ek tevrede sou moes wees om net my gemeente, of selfs net my gesin, te verander.
 Hulle wou niks daarvan weet nie. 
Nou, terwyl ek op my sterfbed lê, begryp ek, te laat: As ek maar net by myself begin het, sou ek dalk deur my voorbeeld my gesin en ’n paar gemeentelede kon verander. 
Met hulle inspirasie en bemoediging sou ons dalk ons land kon help verander. 
En wie weet, miskien sou ons selfs iets aan die wêreld kon doen.”
Gelukkig nog 'n rede hoekom ons nie hoef bang te wees nie: 
”As hulle julle voor die hof sleep, hoef julle nie oor prokureurs of advokate bekommerd te wees nie. Julle hoef nie te wonder oor hoe julle julle gaan verdedig nie. God gaan julle verdedig. Wie weet beter as Hy wat om te sê? Wanneer julle beurt dus kom om iets te sê, sal die regte woorde wel daar wees. 20Dit sal nie julle woorde wees nie; die Gees van julle Vader sal self vir julle elke woord gee wat nodig is. 
Nou is dit effe beter! 
God sal cover! 
Wanneer ons aangekla word, hoef ons nie bekommerd te wees oor wat ons moet sê nie. 
Ons hoef nie bekommerd te wees oor wat ons regspan moet sê nie. 
Nee, God sal via sy Gees die praatwerk doen. 
Hoor jy presies wat hier gesê word? 
God is met sy span elke oomblik agter ons! 
God sal ons saak heeltyd eerste stel met die beste verdediging wat daar is.

Dalk is dit tyd dat ons ons 'versigtige bangheid' in ons sak steek. 
Dalk het dit tyd geword dat ons ons luiheid in ons sak steek en begin om 'iets' te doen. 
Dalk is dit nou die tyd om ook vrede te gaan maak in ’n wêreld waar mense mekaar verwoes en waar liefde net weggewaai het. 
Dan kan ons maar oor die straat stap. 
God sal al dié omstandighede gebruik om sy nuus die wêreld in te kry, maar meer nog, Hy sal my cover. 
Hy sal my nooit los nie! 
Sy span sal saam met my loop. 
Hulle sal daar waar ek met ’n mond vol tande staan, woorde kom lê en self sorg dat die mes nie glip nie en dalk net my arm raak steek.


Soms raak ons so weggevoer deur ’n groot droom in ons harte, dat ons nalaat om die 'seisoen waarin ons tans is' effektief te benut.
Wat ons tans mag doen lyk na ’n eenvoudige onbelangrike werk. 
Tog sien God dit as belangrik. 
Maar moenie die waarde daarvan onderskat nie.”
God ken die drome in ons harte. 

Hy ken ook ons elkeen se toekoms. 
Wanneer ons begin om in Hom te rus, sal ons veel minder stres in ons lewens beleef en meer geleenthede om ’n verskil te maak rondom ons raaksien. 
Gebruik elke geleentheid wat Hy oor ons pad stuur om ’n verskil te maak. 
Só mag ons dalk ’n verskil in ons omgewing, ons land en wie weet, later selfs in die wêreld maak!

Shalom ............. Maranatha ?

No comments: