Pages

Search "Moose Chronicles".....for :

Tuesday, September 18, 2012

Die "Gap" tussen ' volmaakte karakter-eienskappe' & feilbare 'mens-wees' ?



Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar, maar van die vorige gedeeltes van ' Moose Chronicles' se mymeringe, is nie aldag maklik nie........ 

Daar is nog baie timmerwerk aan ons nodig om dié karakter eienskappe deel te maak van ons elke dag se bestaan.

Maar Jesus is vasbeslote dat ons lewens anders moet wees as die gewone mense. 
Daarom skroom Hy nie om die volgende voorskrif daar op die berg ter tafel te lê nie: “Jy moet jou vyande liefhê.” 
Dadelik staan dié van ons wat al deur iemand baie seer gemaak of te na gekom is se hare (en naels) regop.......... 
Verstaan Jesus regtig wanneer jy jou bes doen om as kind van God deur die lewe te stap en iemand kom hier van die kant af wat jou wind uit jou longe slaan en jy smag na asem om net aan die lewe te bly......? 
Daar is soveel stories wat ’n mens kan vertel. 
Een vennoot wat agter die ander een se rug wheel en deal en voor hy hom kom kry sit hy op die straat. 
Een vriend wat die ander vriend se maat afrokkel, ja, selfs huweliksmaats. 
Diewe wat ander se goed net steel en daarmee wegkom. 
Moordenaars wat net die lewe in hul eie hande neem en besluit wie lewe en wie lewe nie. ’n Vrou skree kliphard in een van ons land se gewildste tydskrifte: 
“Hier is vir jou ’n boodskap: Ek sal jou nooit vergewe nie!”

Jesus se opdrag is anders:
 ”... Ek sê vandag vir julle dat julle ook julle vyande moet liefhê.” 
Dis moeilik! 
Nee, dis (menslik-onmoontlik, -dog God via Jesus Christus WEL moontlik,) sê sommige.....insluitende myslewers. 
Dit is verskriklik moeilik as jy die pyn van die ander een se dade hier aan jou lyf gevoel het. Maar voordat jy by die liefdesding kan uitkom, moet jy eers by ’n ander stasie stop. 
Dit is by die stasie waar die vrou kliphard skree dat sy nie haar kind se moordenaar kan vergewe nie. 
Hoe kan ’n mens iemand liefhê as jy daardie persoon nog nie vergewe het nie? 
Dis onmoontlik. Jesus se opdrag om so iemand lief te hê, veronderstel dus dat jy reeds ’n stuk vergifnis aan die persoon uitgedeel het. 
Dat jy reeds by die stasie van vergifnis afgeklim het, na die persoon toe gestap het, hom of haar se hand geneem en sag jou vergifnis oor hul uitgespreek het. 
Eers wanneer jy dít gedoen het, kan jy die lewenstrein haal na die stasie van vergifnis. 
En die rit raak nie makliker nie. 
Inteendeel! 
Hoe kan ’n mens die persoon wat jou lewe en jou drome in skerwe laat spat het, sommer net so op die perron van vergifnis tegemoet gaan loop?

Ons is nog in die proses om op die perron van vergifnis af te klim, dan kondig Jesus reeds die daaropvolgende stasie aan: ”... Bid vir almal wat julle swaar laat kry en julle vervolg.” 

Eers vergewe, dan vergeet, dan liefde saai en nog bid ook vir die persone? 
Wat moet ons vir hulle bid? 
Dat dit goed sal gaan met hulle? 
Dat niemand hulle lewe sal verwoes soos wat hulle ons lewens verwoes het nie?

Ek weet nie van jou nie, maar vir my is hierdie hekkie as ek daarna sou kyk as alleen maar mens-wees (sonder die inwonended hulp van die Heilige Gees) net so effe té hoog.... 

Ek is té bang om van die trein af te klim. 
Ek is bang ek val in die gat tussen die trein en die perron. 
Daai ene waarvoor hulle elke keer in die Engelse moltreine waarsku:
 “Mind the gap, mind the gap.”..........!

Jesus word egter nie van die spoor af getrek nie. 

Jesus is eintlik op pad na die finale stasie: ”Julle moet soos julle hemelse Vader wees. 
Hy het almal hier op die aarde lief. 
As julle ook vol liefde en respek optree teenoor almal met wie julle te doen kry, doen julle presies wat die wet van julle vra. 
Dan stap julle in julle hemelse Vader se voetspore. 
Dan is julle net soos Hy!”

En ja, dit is presies waarheen ons ons trein wil laat loop. 

Ons wil dalk nie by al die stasies stop en oor die gap klim om die mense te gaan druk en vergifnis, liefde en gebed gaan saai nie, maar daar is tog ’n hunkering om in God se spore te loop. 
Miskien moet ons gaan stil word en bid. 
Baie bid. 
Lank bid, sodat die Heilige Gees saam op ons trein kan ry en Hy vir ons kan help om oor die gevreesde gap te kan spring....

Om oor na te dink.........
Vir wie moet jy vergewe?
Vir wie moet jy lief wees?
Vir wie moet jy bid?
Wat van die gap?
In wie se spoor loop jou trein?


Shalom .......... & Maranatha

No comments: