Hoe lyk jou program vir die dag?
En vir die week?
Sekerlik goed vol: Volgeprop met die dinge wat jy self wil of moet doen, maar ook met dié dinge wat ander van jou verwag!
En in baie gevalle vorm laasgenoemde die grootste deel van jou program.
As jy 'n werknemer is, is jou program onderworpe aan wat ander vir jou beplan het.
Dis reeds vir jou vasgemaak.
As jy 'n ouer is, bepaal jou kinders se program grootliks hoe jou eie daar gaan uitsien.
As jy vir jouself werk, moet jy baie maal probeer om jou mededinger een voor te wees, en verg dit groot kreatiwiteit.
Ons wil só graag by alles uitkom.
Daarom is ons gedurig besig met beplanning en skedules.
Dis ook goed so, solank ons net nie aan die einde van die dag moeg en moedeloos moet neersak in 'n stoel - teleurgesteld omdat ons nie alles onder die knie kon kry nie.
Die Psalmdigter herinner ons gelukkig daaraan dat alles tevergeefs is as ons nie die basiese geloofswaarhede onthou nie:
• Alles hang NIE in die eerste en laaste instansie van ons af NIE.
Ons het nie beheer oor die lewe nie, al wil ons dit graag glo.
Ons word soms op wrede maniere daaraan herinner.
Die Here bly in beheer van alles - ook ons tyd.
Die mens wik, maak God beskik.
En sy sorg strek verder as ons werksdag - Hy gee dit selfs vir ons in ons slaap!
• Wanneer ons aan Hom die regte plek in ons alledaagse bestaan gee, kom daar balans.
Val dinge makliker in plek.
Soos Jesus gesê het: As ons sy koninkryk soek en alles wat daarmee verband hou, gee Hy ons ook al die ander dinge.
Dan word ons werk 'n geleentheid om Hom te dien.
Ons gesinsverantwoordelikhede raak geleenthede om saam iets van sy sorg en genade te beleef.
• Niks word sleurgang nie.
Niks raak vervelig nie.
Hy maak ons keer op keer opgewonde oor nuwe uitdagings en geleenthede.
Moenie jou vandag dood bekommer oor hoe jy alles gaan baasraak nie.
Raak rustig in die wete dat hy alles - ook jou program - beheer.
As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs. 2 Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite 'n bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap Ps 127: 1~2
Bid vir die Heilige Gees se Leiding op die paaie wat Hy bestem het....!
Shalom
No comments:
Post a Comment