Pages

Search "Moose Chronicles".....for :

Friday, April 12, 2019

God se Vryheid ... & 'n Baie Dankie.......!

Image result for dankbaarheid quotes
" Dankbaarheid gee Sin aan GISTER; Vrede vir VANDAG; & Skep 'n Droom vir MORE...."
                                                   
 Sonde probeer die "lekker" uit die lewe haal....deur 'n slinkse slenter!

Eers probeer hy vir jou ’n leuen vertel deur te sê hy weet waar die ware 'fun' van die lewe is, maar as jy jou weer kom kry, het jy meer probleme as iets anders.... 
Of probeer jou vasdruk in reëls en regulasies van jy mag nie dit nie en jy mag nie daai nie. 
Ja, aanvanklik lyk daardie kant beter, makliker, maar ongelukkig begin jy gou aan ’n groot stuk bagasie sleep.

Stadig maar seker word jy ingekatrol en voor jy lekker kan sien, is jy in hulle kloue en vasgevang en in die nette van gebondenheid. 
Dan is jy ’n gevangene, ontneem van vryheid – God se Vryheid.

Daar is gewetenlose mense daar buite. 
Daar is mense wat glad nie omgee om ander mense se siel te verkoop nie. 
Hulle is nie bang vir die dood nie. 
Hulle trap met hulle groot bootse op enige iets – selfs op mense se harte.

Dalk sê jy vir jouself dat jy dit nooit sal toelaat nie, die bose sal my nie met ’n slap riem kom vang nie. 
Moenie so seker wees nie. 
Op baie slinkse maniere kom hy en probeer God se vryheid by jou steel.

Miskien sal dit goed wees as ons een of ander tyd op ’n klip gaan sit en mooi kyk na wat ons glo en die maniertjies wat ons vir onsself aangeleer het. 
Maak dit ons vry, of bind dit ons juis vas?

Om te voorkóm dat ons om die bos gelei word, moet ons ’n lewe leef waar ons die heeltyd vir onsself sê: God het alles gemaak. God is die Skepper. Alles wat God gemaak het, het groot waarde.
Wie is ek dan om nou die beheer daarvan oor te neem en te besluit wie mag en wie mag nie? 
Miskien sukkel ons so met die lewe omdat ons alles nie in die regte perspektief sien nie.

Derhalwe...... 
Sê vir God dankie vir alles. 
Vir elke ding wat jy doen, sê vir God dankie daarvoor. 
Dan besef ’n mens gou waar dit vandaan kom en wat die waarde daarvan is. 
Wanneer jy dan nie vir God daarvoor dankie kan sê nie, weet jy hier is iets nie reg nie. 
Dalk is dit dan nie ’n Godgegewe geskenk nie, maar ’n mensgemaakte ding en wanneer die mens iets te make het met die ding, is die kans maar al te goed dat daar êrens iets gaan ontspoor.
Maak ’n punt daarvan om elke oomblik vir God dankie te sê vir alles wat jy om jou het. 
Hy het tog alles gemaak en al die lof kom Hom toe. 
Daarom moet jy in alles wat jy doen jou dank aan Hom betuig en dit ook uitleef. 
As jy iewers by ietsie kom waar jy sukkel om dankie te sê, moet jy dadelik stop om seker te maak dit is God se goed en nie dalk net jou goed nie.
En as jy agterkom daar is iets in jou lewe is wat jou laat twyfel of dit van Hom is, vra Hom om Hulp via die Heilige Gees, om dit te laat staan....

... En dit is reg so, want alles wat God gemaak het, is goed. 
’n Mens hoef nie jou neus op te trek vir enigiets as jy vir God daarvoor dankie sê nie. 

God self het vir ons gesê dat alles wat gemaak is Syne is.

Shalom ... & Maranatha !

No comments: